Biografie

Manie Jackson is 'n gevierde en geliefde Afrikaanse Country-, Pop- en Gospelsanger – 'n kunstenaar wie se unieke stem, opregte persoonlikheid en liefde vir musiek reeds dekades lank gehore regoor die land aanraak. Gebore op 30 Desember 1979 in Pretoria en tans woonagtig in Vaalpark naby Sasolburg in die Vrystaat, het Manie reeds op vyfjarige ouderdom geweet hy wil eendag 'n sanger word. Hy kom uit 'n musikale familie en volgens hom is dit veral sy geloof, sy ma se opvoeding en die ondersteuning van sy gesin wat hom deur die jare gegrond gehou het.

Soos baie groot kunstenaars, het Manie se pad na sukses nie oornag gebeur nie. Hy het jare lank op kleiner verhoë, danssale, kerke en gemeenskapsgeleenthede opgetree voordat sy musiek landswyd begin deurbreek het. Met deursettingsvermoë, harde werk en 'n stem wat gehore diep raak, het hy geleidelik een van die mees gerespekteerde name in die Afrikaanse musiekbedryf geword.

Tydens die 2011 SAMA-toekennings is hy vir die Beste Countrymusiek-album bekroon. Hy is ook al 4 keer benoem vir 'n Huisgenoot Tempo-toekenning en 3 keer vir die Ghoema-toekennings. In 2018 is hy deur die publiek as Gewildste Sanger aangewys en met 'n Ghoema-toekenning vereer. Manie het ook die gesogte Udo Jürgens-toekenning vanaf Oostenryk/Duitsland ontvang vir sy lied Leef vir Hom – 'n besondere internasionale erkenning. Hy het reeds meer as 80 toekennings en erkennings gedurende sy loopbaan ontvang en is die mees bekroonde kunstenaar in die geskiedenis van die amptelike SA Country Top 10 se Melodie-toekennings.

Manie het al 8 ateljee-albums vrygestel onder Select Musiek, waarvan almal Goud-, Platinum-, Trippel Goud- en Dubbel Platinum-status bereik het. Sy algehele verkope strek al verby 350 000 eenhede, wat hom stewig onder die Top 10 grootste verkopers in die Afrikaanse musiekbedryf plaas. Hy reik in 2017 sy 8ste album uit, Palms van my hande, en in 2018 sy album Op 'n hoë noot.

Sy duet-album, In Duet Met Ons Legendes, is 'n hoogtepunt waarop hy kragte saamsnoer met van Suid-Afrika se grootste legendes, soos Bles Bridges, Gé Korsten, Carike Keuzenkamp, Bobby Angel, Min Shaw, Lance James, Clive Bruce, Jody Wayne, Barbara Ray, die Briels en meer.

Manie het ook sy merk op televisie gemaak met verskynings op programme soos DKNT, Jam, Jukebox, Noot vir Noot, Country Opskop, Musiek Roulette, Musiek is my Taal, Skouspel en Krone, wat hom aan miljoene Suid-Afrikaners bekend gestel het.

Buiten sy musiekloopbaan is Manie bekend vir sy ondersteuning van liefdadigheidsake. Hy het byvoorbeeld in 2022 'n vertoning ten bate van die Tuinroete Dierebeskermingsvereniging (DBV) by die NG kerksaal in Blanco gehou. Manie werk tans aan 'n splinternuwe volle album, waarmee hy reeds in 2022 begin het. Die projek moes ongelukkig tydelik op 'n laer pit geskakel word ná die afsterwe van sy jarelange produksieleier, Dennis East, maar hy het voortgegaan met die projek ter herinnering aan hul jarelange vriendskap en samewerking.

Sy raad aan opkomende sangers bly eenvoudig maar betekenisvol: "Die musiekbedryf is te onstabiel – bly nederig, en sorg dat jy iets agter jou naam het waarop jy kan terugval." Manie doen tans 3 tot 5 optredes per week en bly aktief op sosiale media, waar hy met sy luisteraars in aanraking bly via Facebook, Instagram en TikTok, asook streamingplatforms soos Spotify, Deezer en YouTube (ManieJacksonVEVO). Met 'n loopbaan vol toekennings, onvergeetlike duette en 'n stem wat steeds gehore regoor die land roer, bly Manie Jackson waarlik "Die Goue Stem van Suid-Afrika."

Manie Jackson - My Beste en Meer
Albums en Toekennings


Manie Jackson, 2010 – Dubbel Platinum
Liefde En Genade, 2011 – Platinum
Sprei Jou Vlerke, 2012 – Goud
Tydlose Treffers, 2013 – Platinum
'n Spesiale Aand Met Manie Jackson, 2013 – DVD
n Spesiale Aand Met Manie Jackson, 2013 – CD
Onthou My, 2014 – Goud
Dankie Heer, 2015 – Goud
In Duet Met Ons Legendes, 2016 – Goud
Grootste Treffers, 2017 - DVD
Platinum Treffers, 2017
Palms van my hande, 2017
Op ń hoë noot, 2018
My beste en meer, 2019

Manie en Christelle
Manie Jackson en Ray Dylan
Manie Jackson
Manie Jackson en Nicholis Louw

"Die Hemel Weet" Offisiele Video

Kontak Besonderhede

Selfoon nr 082 463 4351
Besprekings maniejacksonbesprekings@gmail.com

© Copyright 2023 Manie Jackson - All Rights Reserved

Website sponsored, created and hosted by Gatematix